Deur Samuel Rossouw
Wat gebeur met jou voordele as jy sterf, of skei?
Hoewel gesprekke tussen adviseur en kliënt dikwels handel oor die prestasie van beleggings- en aftreevoordele, is daar ’n paar ander belangrike kwessies wat ook deeglike oorweging verg.
Dit kan pandemonium in ’n familie versoorsaak indien erflatingsverwagtinge nie realiseer nie. Hier verwys ek spesifiek na die hantering van aftreegeld by afsterwe, die aanwysing van sekondêre begunstigdes op lewende annuïteite asook die hantering van lewende-annuïteitsvoordele tydens egskeiding.
Die hantering van pensioen-, voorsorg- en aftreeannuïteitsgeld (voor aftrede)
Daar is ’n foutiewe persepsie dat die toewysig van aftreevoordele ná die belegger se dood geheel en al volgens sy/haar diskresie gebeur.
Die Raad van Trustees van die spesifieke fonds is verantwoordelik vir die bestuur van die fonds. In die besluit oor die uitkering van geld by afsterwe, kan hulle begunstigde-klousules teenstaan:
- Met die afsterwe van ’n lid moet die trustees bepaal wie geklassifiseer word as afhanklikes en in watter mate hulle finansieel beïnvloed word deur die lid se afsterwe.
- Moontlike toekomstige finansiële afhanklikheid word ook in ag geneem.
- Die trustees het ’n tydperk van 12 maande om te besluit aan wie voordele betaal sal word, hetsy die afhanklikes, begunstigdes of ’n persentasie aan albei.
- Die bestuur van die aftreefonds vind op fondsvlak plaas en nie op rekeningvlak nie. ’n Lid kan dus drie verskillende annuïteite by een verskaffer hou, met verskillende begunstigdes, maar die trustees sal dit as een rekening benader.
Die besluit van die trustees is nie noodwendig finaal nie en die Beregter vir Pensioenfondse of selfs die Finansiëledienstetribunaal van die Gedragsowerheid vir Finansiële Dienste (FSCA) kan betrek word as begunstigdes ontevrede is met die besluit.
Sekondêre begunstigdes op lewende annuïteite (ná aftrede)
Met afsterwe sal die fondswaarde in ’n persoon se lewende annuïteit betaalbaar wees aan sy benoemde begunstigdes sonder inspraak van trustees. Hierdie begunstigde het die opsie om weer ’n lewende annuïteit te neem (met geen belasting-implikasies nie) of ’n volle onttrekking te doen (belasbaar) of selfs ’n kombinasie van die twee opsies.
’n Sekondêre begunstigde is ’n persoon wat aangestel word indien die eerste-keuse-begunstigdes nie ’n nominasie kan aanvaar nie (byvoorbeeld weens gelyktydige of vroeëre afsterwe).
In die afwesigheid van ’n sekondêre begunstigde sal hierdie geld outomaties uitbetaal word aan die oorledene se boedel.
Die nadeel van bogenoemde scenario is dat inkomste belasting, bereken volgens die aftree-tabelle, betaal word teen ’n koers van 36% op alle bedrae bo R1 050 000.
Nog ’n nadeel is dat die geld in kontant aan die erfgename uit die testament betaal word en dus dan weer in hul boedels geplaas word. Gevolglik kan jare se behoorlike beplanning tot niet gemaak word.
Die hantering van lewende annuïteite tydens egskeiding
Die waarde van enige lewende annuïteit val buite die boedel vir boedelbelastingdoeleindes.
Dit mag dus as vanselfsprekend aanvaar word dat dit ook buite die boedel sal val vir die berekening van ’n aanwas-eis in ’n egskeiding.
In ’n baie onlangse hofuitspraak (Montanari vs. Montanari van Mei 2020) het die appèlhof egter bevind dat die annuïteitsinkomste wél ingesluit kan word by die berekening van ’n aanwas- eis tydens egskeiding.
Die rede is dat die eiser ’n gevestigde reg het op die opbrengs en inkomste van die lewende annuïteit.
Die kapitaal kan egter wel nie verdeel word soos by annuïteitsfondse nie en ’n gekapitaliseerde waarde sal bereken moet word op grond van die toekomstige inkomste wat dan op een of ander manier verdeel moet word.
Dit is tans nog onduidelik hoe die berekening van hierdie waarde gehanteer sal word en hier kan ’n groot verskil in interpretasie tussen partye opduik.
Hierdie uitspraak hou uit die aard van die saak ’n groot implikasie in vir persone wat reeds afgetree het en waar die grootste gedeelte van hul geld in ’n lewende annuïteit is. Ons weet almal dat ’n egskeiding ’n gewigtige en ongemaklike saak is, maar iemand wat hierdie skuif al vir ‘n geruime tyd beplan, moet dalk net weer die opsies heroorweeg.
In ’n neutedop
- Maak seker dat alle afhanklikes gelys is op jou aftreefonds aangesien die trustees van ’n fonds die verpligting het om ondersoek te doen oor die bestaan van moontlike afhanklikes.
- Die betaling van aftreefondsvoordele by afsterwe kan lank sloer. Maak dus seker dat jou begunstigdes voldoende voorsiening het.
- Hoewel lewende annuïteite nie deel van jou boedel vorm nie, sal die inkomste wel as ’n bate beskou word vir die berekening van die aanwas tydens egskeiding.
- Maak seker dat ’n sekondêre begunstigde aangestel word op jou lewende annuïteite. Indien die oorspronklike begunstigde nie meer in staat is om die geld te ontvang nie, sal die lewende annuïteit as kontant in die boedel uitbetaal en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens kan dalk ook ’n meevaller in die vorm van boedelbelasting ontvang.
Hierdie is die tipe aspekte waarmee die meeste van ons gelukkig relatief min te doen kry, maar indien jou beplanning nie hier voldoende is nie, kan jou geliefdes dalk net aan die kortste ent trek.
Samuel Rossouw is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner van ProVérte Wealth & Risk Management. Kontak hom by info@temp.sg-build.co.za.
Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. ProVérte Wealth & Risk Management is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.
.section-post-header {
background-color: #305f83;
color: #fff;
background-image: url(https://temp.sg-build.co.za/wp-content/uploads/2020/10/Proverte-Feature-Image-min.png);
background-attachment: fixed;
background-position: center;
background-repeat: no-repeat;
background-size: cover;
height: 400px;
vertical-align: middle;
}