Deur Andró Griessel
Waarom jy dalk ’n dekade se opbrengs moet ignoreer
So ’n paar jaar gelede praat iemand my om om aan die Karoo-tot-Kus-bergfietswedren deel te neem. Jy’s mos taamlik fiks, sê hulle. Die profiel wys dit is afdraand en jy sal dit baie geniet, sê hulle.
’n Paar maande voor die tyd kommandeer ek ’n paar mense op. Maar soos die tyd nader kom, raak die verskonings al hoe meer en uiteindelik tree ek aan in my groepie van een op ’n fiets wat van die 1990’s dateer en van dieselfde materiaal gemaak is as waarvan hulle kerkklokke maak, kompleet met remblokkies (wat ek later uitgevind het die hele pad teen my voorwiel geskuur het).
Lang storie kort, ek maak amper 8 uur later klaar met ’n gemiddelde hartklop van meer as 180 per minuut, seer boude en visioene van mense wat lank reeds dood is.
Prestasie, of somtyds net om klaar te maak waarmee jy begin het, verg swoeg en opoffering.
Dit bly my dus altyd verstom hoe baie beleggers reken dat bogemiddelde langtermynprestasie haalbaar is sonder om soms lang tydperke van swak prestasie te aanvaar.
Die geneigdheid om agter die reënboog (die ekwivalent van net afdraande ry) aan te hardloop, is uiters diep gewortel in ons psige en ek wil my verstout om te sê ons is in ’n tydperk waar baie beleggers onlangs ingeskryf het vir die buitelandse beleggingsrit met sterre in hul oë en verwagtinge dat dit een lang, egalige afdraand gaan wees.
Waar kom hierdie indruk vandaan?
- As jy 25 jaar gelede (aan die begin van 1995) R100 000 in ’n fonds belê het wat die S&P 500 se totale opbrengs (ná koste) kon ewenaar, sou jy vandag nagenoeg R5,7 miljoen gehad het. Die gemiddelde opbrengs in rand was meer as 17% per jaar.
- Oor die laaste 11,5 jaar was die gemiddelde opbrengs in rand 22% per jaar en oor die laaste 4,5 jaar was dit 35% per jaar!
Veral die laaste twee syfers kry tans baie aandag in die media.
As dit afdraande is van Uniondale na Knysna, maak dit saak hoe die pad tussen die twee punte lyk, vir hoe lank die opdraandes duur en of jy fiks genoeg is om die eindstreep te haal?
Natuurlik maak dit saak.
Net so maak dit saak dat jy as belegger die héle prentjie moet sien en verstaan voordat jy jou hand opsteek vir ’n langtermynbelegging.
Waarom is ek skepties oor of beleggers wat nóú hul buitelandse blootstelling wesenlik vergroot, die rit gaan hê wat hulle verwag? Sien die bygaande grafiek van die S&P 500 se prestasie oor die afgelope 25 jaar en let dan op die volgende:
Alles wat ek (en derhalwe jy) oor die laaste paar maande lees in die media oor die saak vír buitelandse beleggings, verwys na die tydperk A tot H of E tot H en dan boonop asof dit ’n reguit lyn is.
Dit is egter belangrik dat ons ook praat oor B tot C, D tot E en B tot F, want so waar as vet, dié gaan vroeër of later ook jou voorland wees.
Neem dus die bedrag wat jy tans oorsee het of wat jy oorweeg om te skuif, pas die syfers daarop toe en vra jouself af of jy sal kan aanhou trap teen hierdie bulte uit.
- Van September 2000 tot Oktober 2002 daal jou belegging in dollar met 44% en hoewel die rand oor dié tydperk wesenlik verswak het (wat jou rand-verliese verminder) is jou saldo ná twee jaar 19% minder as waarmee jy begin het.
- Van Oktober 2007 tot Maart 2009 daal jou beleggings in dollar met meer as 50%. Dit gaan weereens gepaard met ’n rand wat baie veld verloor teenoor die dollar, maar jou verliese in rand oor die 16 maande beloop dié keer amper 30%.
- Die ongelukkige belegger wat in September 2000 (B) vir die eerste keer belê het (sonder twyfel vanweë baie goeie historiese prestasie) sou meer as 11 jaar (F) later 0%-groei in dollar gehad het en ’n skamele 2% per jaar in rand.
- Dieselfde belegger sou aan die einde van die 2008- finansiële krisis (E) ná 8,5 jaar se belegging steeds 18% minder in rand gehad het as waarmee hy in 2000 (B) begin het.
’n Paar opsommende gedagtes:
- Die beleggingsghoeroe Warren Buffett het ’n sêding: “You can never sell right, you can only buy right.”
- Jy moet jouself afvra of waar die S&P 500 nou is, ’n goeie intreepunt is, want as punt H dieselfde as punt B is, wag daar dalk ’n baie lang opdraand. En dan praat ek nie eens van die Nasdaq en sogenaamde FANG-(Facebook, Amazon, Netflix en Alphabet/Google) aandele nie.
- Wees versigtig vir maklike antwoorde op komplekse vrae.
- Vir die meeste mense maak wesenlik groter blootstelling aan buitelandse bates wel sin, maar behalwe as opbrengs nie meer saak maak nie, maak die terme (wisselkoers en valuasievlakke) waarteen jy belê, wel saak. ’n Benadering van “kom ons koop die indeks en trek ons ore plat” gaan dalk nie die gewensde uitkoms hê nie.
- Statistieke is nuttig maar kan bedrieg. As jy van ’n laagtepunt in die mark en ’n hoogtepunt in die randwisselkoers meet tot by ’n hoogtepunt in die mark en ’n relatief swak wisselkoers, gaan die prentjie uiteraard baie rooskleurig lyk. Dit is belangrik om te onthou dat dié twee datapunte albei relatief vinnig kan verander.
- Na my mening kan opbrengste uit veral VSA-aandele nie nou naastenby die afgelope dekade se prestasie herhaal nie. Wees dus versigtig vir ooroptimistiese aannames en te eensydige portefeulje-toewysings en maak seker dat jy die opdraande wat voorlê, sal kan trotseer.
Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Kontak hom by info@temp.sg-build.co.za. Hy skryf gereeld vir Sake.
Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. ProVérte Wealth & Risk Management is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.
.section-post-header {
background-color: #305f83;
color: #fff;
background-image: url(https://preview.sg-build.co.za/testing/wp-content/uploads/sites/374/2020/09/Proverte-Feature-Image-min.png);
background-attachment: fixed;
background-position: center;
background-repeat: no-repeat;
background-size: cover;
height: 400px;
vertical-align: middle;
}