Pas jou aftreeplan só aan
Neem dié faktore in ag wanneer jy beplanning doen
Deur Samuel Rossouw
06 June 2020
Afhangende van waar jy jouself bevind in die lewensiklus van ’n belegger, ervaar jy verskillende emosies tydens markineenstortings soos ons onlangs weer beleef het.
Hoe jy egter reageer en watter aksies jy volg ná dié soort marktuimelings, het ’n groot invloed op die sukses van jou beplanning en waar jy jou sal bevind tien of selfs 20 jaar van nou af.
Dít wat dikwels voel na die mees voor die hand liggende optrede tydens marktuimelings – soos byvoorbeeld skuif na ’n geldmarkrekening, omskakeling na effektetrustfondse wat beter presteer het of ’n vlug na goud – rig dikwels meer skade aan jou langtermynbeplanning aan as wat dit jou situasie beredder.
Markregstellings vind dikwels baie vinnig en onverwags plaas en versoorsaak dat die boot baie gou die hawe verlaat vir beleggers wat besluit om op die kaai te sit totdat die storms bedaar.
Daar is heelwat beplanningsopsies wat langtermynbeleggers kan inspan tydens tye van markdalings om te verseker dat hul langtermynplan steeds klop.
Pensioentrekkers met R10 miljoen se aftreekapitaal, ’n potensiële beleggingstermyn van 30 jaar, inflasiegekoppelde verhogings (aanvaar 5%) en wat ’n 5%-daling in kapitaal ervaar (dus hul kapitaal verminder met R500 000) kan hierdie daling heeltemal uitwis deur hul jaarlikse inkomsteverhoging met ’n halwe persentasiepunt te verminder, dus slegs ’n jaarlikse verhogings van 4,5% te neem pleks van 5%. Die tabel hierby wys die verskillende kombinasies opsies wat tot dieselfde resultaat kan lei.
Uiteraard is van die aanpassings makliker gesê as gedaan.
As dit reeds broekskeur gaan (anders as die voorbeeld hierbo), is dit baie moeilik om jou maandelikse inkomste te verminder.
Dan is jou opsies om in die toekoms effens laer verhogings te neem of ’n kombinasie van laer verhogings en beleggings wat ’n effens hoër opbrengs kry.
Laasgenoemde moet egter met omsigtigheid bejeën word, want dit is juis die soeke na ’n hoër opbrengs wat beleggers in donker gangetjies kan af lei.
Daar is ’n gesegde dat jy nie goeie wyn van slegte druiwe kan maak nie. Net so kan jy nie gebrekkige beplanning laat verdwyn deur meer aggressiewe beleggings te doen nie. Tydelike markdalings verteenwoordig natuurlik ook nie ’n permanente verlies van kapitaal nie en dus sal beleggers nie bogenoemde aanpassings oor die volle termyn van hul beplanning hoef in te stel nie. Wanneer omstandighede dit toelaat, sou hulle weer positiewe aanpassings kan maak.
Die grafiek hierby toon die waarskynlikheid van mislukking vir die kombinasie van verskillende onttrekkingskoerse en geprojekteerde opbrengskoerse indien afgetredenes se geld 30 jaar vanaf aftrede moet hou.
Hoewel hoë onttrekkingskoerse statisties onderhou kan word deur aggressiewe portefeuljes, verloop dinge selde seepglad en kan so ’n strategie steeds misluk.
Hoe laer jou geprojekteerde opbrengskoers en hoe hoër jou onttrekkingskoers, hoe groter is die kans op mislukking natuurlik.
Die groen blokke (waar jy graag wil wees) wys bloot die kombinasies van veilige onttrekkingskoerse terwyl die rooi gedeeltes gevaarsones beteken.
Die tabel hierbo wys dat mislukking feitlik gewaarborg is indien jy slegs konserwatiewe fondse gebruik (bv. kontant) met ’n onttrekkingskoers van meer as 4,5%. Groeibates is dus baie belangrik vir die behoud van jou kapitaal op lang termyn.
Die rede waarom meer aggressiewe portefeuljes ook kan misluk, is omdat beleggingsopbrengste nie in ’n reguit lyn hulself voordoen nie. Deurdagte beleggers behoort hul beplanning aan te pas by omstandighede en die wisselvalligheid van markte.
Dit kan dus sinvol wees om jou maandelikse onttrekking in drie komponente te verdeel:
- Die absolute minimum wat jy nodig het om te oorleef;
- Wat jy graag bykomend wil onttrek om gerieflik te leef; en
- Jou wenslysie, soos die vervanging van motors of duur vakansies.
As markte egter suid draai, kan jy met redelike gemak jou wenslys eers opsy skuif en jou beplanning herorganiseer.
Ons weet dat ’n gemiddelde opbrengs van 10% oor 20 jaar nie beteken dat jou beleggings elke jaar met 10% groei nie en daarom sal jy deur jou beleggingsloopbaan van tyd tot tyd beetgepak word deur vrees of ’n vals gevoel van sekerheid ervaar.
Konstante monitering van jou situasie is van kardinale belang.
Beplanning vir aftrede
Watter faktore behoort jy in ag te neem wanneer jy beplanning doen vir aftrede? Dit is baie belangrik dat jy moet weet hoeveel blootstelling jy moet hou aan groeibates (soos aandele en eiendom) om op lang termyn jou onttrekkingskoers te kan dra.
Wees bewus van die karaktereienskappe van jou effektetrustfondse.
Kyk na die batetoewysing en wat die swakste scenario vir die toewysing is. Jy moet gemaklik deur die slegste tydperk kan sit, sonder om aanpassings of skuiwe te wil maak.
Ongemaklike tye van wisselvalligheid en swak prestasies in beleggingsmarkte beteken nie noodwendig dat jou aftrede ontspoor het nie. Daar is baie “klein” aanpassings wat gemaak kan word om te verseker dat jou plan steeds suksesvol is.
Die oorsien van ’n jaarlikse verhoging, laer gemiddelde verhogings of selfs ’n klein vermindering in inkomste het ’n wesenlike impak op fondswaardes.
Moenie jou beleggings meer aggressief toewys bloot om markdalings of swak beplanning te probeer teenwerk nie; so ’n strategie het ’n lae waarskynlikheid op sukses.
As jy nalaat om te beplan, is daar ’n groot moontlikheid dat jou plan gaan misluk. Doen dus die moeite om ’n ordentlike aftreeplan te kry wat aanpasbaar en prakties uitvoerbaar is.
Samuel Rossouw is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en ’n direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Kontak hom by info@temp.sg-build.co.za.
Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. ProVérte Wealth & Risk Management is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.
.section-post-header {
background-color: #305f83;
color: #fff;
background-image: url(https://temp.sg-build.co.za/wp-content/uploads/2020/07/FT-image-min.png);
background-attachment: fixed;
background-position: center;
background-repeat: no-repeat;
background-size: cover;
height: 400px;
vertical-align: middle;
}