Pomp jou finansiële spiere
Nuwejaarsvoornemens oor geldsake is makliker om vol te hou
Deur Andró Griessel
21 Des 2019
Hopelik lees jy hierdie rubriek van onder ‘n sonbreel met jou tone in die sand of terwyl jy luilekker kaalvoet op die bank lê met ‘n glasie Sauvignon Blanc wat vir jou staan en loer.
2019 het gekom en gegaan en ongetwyfeld het ’n paar van ons goeie voornemens ook iewers langs die pad agterweë gebly.
Die blote feit dat ek voorgeboorteklasse of ’n kardiopulmonêre resussitasie-kursus oorweeg om genoeg Vitality-punte te probeer kry voor die einde van die jaar, behoort ’n aanduiding te wees dat nie al my voornemens heeltemal gekristalliseer het nie.
Anders as voornemens om minder suiker of alkohol te gebruik of om korter ure te werk en meer ure by die gymnasium deur te bring, is finansiële nuwejaarsvoornemens makliker om te verwesenlik.
Eersgenoemdes verg ’n daaglikse opoffering en konstante geswoeg. Ek sien egter baie mense wat in die lewe teruggehou word weens aspekte van hul finansiële beplanning, terwyl baie hiervan relatief maklik reggestel kan word, eens en vir altyd.
Maak ’n punt daarvan om vroeg in 2020 die volgende reg te stel indien dit nie reeds so is nie:
Maak die som
Om te meet is om te weet. Ek bly verstom hoeveel mense hul beplanning soos ’n Oujaarsaandpartytjie aanpak, met ander woorde “ons kyk maar wat gebeur”. Jy kan nie ’n bestemming bereik as jy nie weet hoe ver dit is, wat jy moet doen om daar uit te kom en vir hoe lank jy dit gaan moet doen nie.
Die meeste mense maak die fout om te dink daar is nog baie tyd om hul sake in orde te kry. Hoe meer tyd verloop, hoe moeiliker raak dit om jou sake in orde te kry.
As jy dit nog nooit of lanklaas laat doen het, laat iemand vir jou vroeg in 2020 mooi uitwys waar jy ten opsigte van jou doelwitte is ten opsigte van die hoofpunte van jou beplanning.
Moenie te konserwatief belê nie
Na my mening belê die meeste mense te konserwatief. As jy vandag 35 is en jy tree op 65 af en leef daarna op jou spaargeld tot ouderdom 90, sal “slegs” ’n 2 persentasiepunt per jaar verskil in opbrengs daartoe lei dat jy sowat dubbeld die bedrag kan trek in aftrede as die persoon wat 2 persentasiepunte swakker gevaar het.
Gaan jou portefeulje na en kyk
- wat jou historiese opbrengs was vergeleke met iets soos ’n gebalanseerde portefeulje en
- maak seker jy belê nie onnodig konserwatief nie.
Dink ook gerus na oor die konsep van konserwatiewe beleggings ná aftrede. Jy kan moontlik nog 30 jaar leef nadat jy ophou werk het. Die langtermyn-opbrengs van jou portefeulje speel steeds ’n baie belangrike rol in die uitvoerbaarheid van jou beplanning, selfs ná aftrede.
Beplan om lank te leef, nie om vroeg te sterf nie
Talle finansiële planne wat ek sien, kan nét uitwerk as die persoon vroeg doodgaan. Dit is ’n dom plan uit meer as een oogpunt.
Dit is baie maklik om te toets of jou plan uit hierdie oogpunt gaan misluk. Druk jou jaarlikse geprojekteerde lewenspremies uit as ’n persentasie van jou geprojekteerde spaargeld by aftrede. Ek wil my verstout om te sê dat as dit meer as 10% is, staan jou beplanning ’n wesenlike kans om te misluk omdat die dekking eenvoudig onbekostigbaar gaan raak as jy oud gaan raak. Versekering is nie ’n beleggingstrategie nie, moet dit ook nie so hanteer nie.
Die vrou van die huishouding moenie in die duister wees nie
Baie gesinne beskou nog finansies as “die man se domein” en iets waarmee die vrou haar nie hoef te bemoei nie. Niks kan verder van die waarheid af wees nie, want wie eindig op met die beplanning?
In die meeste gevalle oorleef vroue hul mans. Ek het onlangs ’n kliënt gesien wie se sukses al dan nie van sy plan grootliks afhang van sy vermoë om wisselvalligheid in markte te kan hanteer.
In hierdie geval sal die man dit dalk kan doen omdat hy ’n finansiële agtergrond het. Die vrou het egter nog nooit met beleggings te doen gehad nie en ken nie die verskil tussen ’n aandelebelegging en kontant in die bank nie. In sy afwesigheid, en vernaam as die vrou nog nie ’n lang vertrouensverhouding met ’n professionele raadgewer opgebou het nie, het hierdie plan ’n hoë waarskynlikheid om te misluk.
Die eerste onstuimige tydperk in die mark gaan hierdie vrou na die veiligheid van bankdeposito’s laat hardloop. En dit gaan die mislukking van die plan verseker aangesien sy nie genoeg nabelaste opbrengs op daardie manier sal kan genereer nie.
Indien jou gade (man of vrou) nie tans vergaderings met jul adviseur bywoon nie, versoek haar/hom tog maar om wel hierdie vergaderings van 2020 af te begin bywoon. Dit is vir hul eie beswil.
Terloops, mense wat geen vertroue in finansiële beplanners het nie en self hul sake hanteer, moet ook net hierdie werklikheid in ag neem. Wat gebeur as jy nie meer daar is nie?
Ek vind dit nogal ironies hoe party mans hul vroue dekades lank finansieel in die duister laat en dan 100% van alles aan haar bemaak.
Moenie beweging met vordering verwar nie
In 2019 het die meeste beleggers weer eens, ondanks telke waarskuwings, hulself in die voet geskiet deur uit aandele of hoë-aandele- gebalanseerde fondse om te skakel na kontant- of inkomstefondse. As jy beleggings soos ’n warm patat laat val en kort-kort die aard van jou portefeulje wysig, is jy (of wie ook al jou van raad bedien) ’n gevaar vir jouself.
Dit is my ervaring dat portefeuljes wat opgestel word binne ’n spesifieke mandaat en waaraan slegs herbalanserings en klein wysigings oor tyd aangebring word, baie beter is as pogings om die toekoms te voorspel.
Alle voorspoed vir die komende jaar. Miskien is dit wensdenkery, maar ek dink 2020 gaan vir die meeste van ons meer inhou om oor te glimlag.
Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Kontak hom by info@temp.sg-build.co.za. Hy skryf gereeld vir Sake.
Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. ProVérte Wealth & Risk Management is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.
.section-post-header {
background-color: #305f83;
color: #fff;
background-image: url(https://temp.sg-build.co.za/wp-content/uploads/2020/01/Proverte-A1-Feature-Image-2.png);
background-attachment: fixed;
background-position: center;
background-repeat: no-repeat;
background-size: cover;
height: 400px;
vertical-align: middle;
}