Hoe om nié geld te maak
Beleggers skiet hulself telkens in die voet
Deur Andró Griessel
21 Sep 2019
In Mei 2014 het ek in ’n artikel onder die opskrif “Pasop vir truspieël-beleggings” geskryf dit is hoogs onwaarskynlik dat die opbrengste uit plaaslike aandele in die voorafgaande dekade (dus sedert 2004) herhaal sou word en dat dit beleggers sou baat om hul batetoewysing aan hierdie bateklas te temper.
Net vir konteks, sien die meegaande tabel vir die prestasie van vier van die “beste” algemene aandelefondse oor een, drie, vyf en tien jaar in daardie stadium.
Oor die voorafgaande vyf-jaartydperk het die JSE gemiddeld 20,98% per jaar opgelewer terwyl geldmark- en inkomstefondse oor dieselfde tydperk onderskeidelik ’n relatief “patetiese” 5,72% en 7,71% per jaar opgelewer het.
Vir enigiemand wat hierna sou kyk en bloot net sy instink sou volg, sou die versoeking groot gewees het om alle beskikbare geld in daardie stadium in die rigting van Suid-Afrikaanse aandele te kanaliseer.
Hierdie einste prestasie was egter die rede waarom ek en ander skrywers gewaarsku het teen die verwagting dat dit kan voortduur.
Onthou, selfs groot bome wat vinnig groei, groei nie tot by die maan nie.
Wat het beleggers egter in daardie stadium met hul geld gedoen?
Sien hiernaas die ontleding van geldvloei in die 2de kwartaal van 2014:
- Fondse met hoë aandeleblootstelling kry R11,6 miljard se invloei;
- Fondse met ’n gematigde aandeleblootstelling kry R2,1 miljard se invloei;
- Fondse met ’n lae aandeleblootstelling kry R4,5 miljard se invloei; en
- Kontant- en inkomstefondse kry absoluut geen aftrek nie en beleef in der waarheid ’n netto uitvloei oor hierdie tydperk.
In die daaropvolgende vyf jaar – tot 30 Junie 2019 – behaal hierdie drie breë bateklasse waarna ek hier bo verwys toe die volgende opbrengste:
- SA aandele = 5,64% per jaar
- SA geldmark = 6,89% per jaar
- SA inkomstefondse = 7,18%per jaar
So wat doen beleggers nou?
Jip, jy het reg geraai… Hulle verkoop op groot skaal hul relatief goedkoop Suid-Afrikaanse aandele nadat hulle dit vyf jaar gelede ten duurste gekoop het en parkeer al hul geld in geldmark- en inkomstefondse.
Sien die meegaande grafika.
Die tweede kwartaal van 2019 het amper die presiese omgekeerde vloei van geld ervaar as die tweede kwartaal van 2014.
Beleggings in aandele het wesenlike netto onttrekkings gehad terwyl geld amper uitsluitlik na kontant en inkomstefondse gevloei het.
Wat vertel hierdie aan ons?
- Dit is ironies dat beleggers belasting wil weerhou van ’n staat wat dit “uitmors”, maar dan belê hulle R30 miljard in een kwartaal in fondse wat amper 100% belasbare opbrengste lewer van ’n rapsie bo die inflasiekoers. Lees gerus weer die berig “Pasop vir Jan Taks en rente opbrengste” van Junie 2018.
- Ten spyte van verskeie “vat-alles-land-uit”-pleidooie lyk dit asof beleggers in onseker tye steeds kontant verkies bo enigiets anders. In hierdie spesifieke kwartaal was daar nie wesenlike omskakelings na buitelandse beleggings nie. Dit is sprekend van die groot onsekerheid wat tans by baie mense heers. Onthou egter dat die grootste geleenthede in finansiële markte juis in onsekerheid gebore word.
- Albei stelle data boesem nie vertroue by my in dat beleggers en/of hul adviseurs leer uit die foute van die verlede nie. Geld vloei steeds na fondse wanneer hulle histories goed gevaar het (met ander woorde wanneer hulle waarskynlik duur is) en uit fondse wanneer hulle histories sleg gevaar het (en dus waarskynlik goedkoop is). Lees gerus weer “Verlede sê min oor die toekoms” van Oktober 2019.
Wat staan ’n belegger te doen?
Die volgende vraag wat nou by u opkom, is sekerlik iets soos: “Nou mannetjie, as jy so slim is, sê jy vir my waar moet ek belê?”
Natuurlik sou ek ’n paar mieliepitte verruil vir die spreekwoordelike kristalbal, maar helaas, niemand het een nie.
In dieselfde asem is daar nie een skoen wat alle voete pas nie, so algemene stellings oor waar om te belê sou nie net onverskillig wees nie, maar ook onvanpas.
Wat ek wel kan sê, is dit:
- As beleggings intuïtief was, sou meer mense sukses daarmee behaal het. Die beste geleenthede doen hulself voor op plekke waar jy dit die minste verwag en gewoonlik in omstandighede van maksimum pessimisme. Wat pessimisme aanbetref, is daar tans oorgenoeg van in Suid-Afrika en die meeste aandele op die JSE weerspieël daardie pessimisme.
- Belastingtoegewings op sekere produkte (veral as jy op ’n hoë belastingkerf is) bied in sekere gevalle die spreekwoordelike gratis maaltyd. Deur dit nie te benut nie, kyk jy ’n gegewe perd in die bek.
- Begin by die vrugte wat laag hang ten opsigte van waardasies en bou ’n gediversifiseerde portefeulje wat met verskeie uitkomste (soos ’n sterk rand, ’n swak rand, ’n afgradering, ’n opgradering, ’n tweede Trump-termyn, Brexit, en so meer) kan saamleef.
Ten slotte: Nie ek of enigiemand anders kan regtig in die toekoms sien nie, maar ek sou uiters verbaas wees indien kontant- en inkomste-fondse oor die volgende vyf jaar beter as Suid-Afrikaanse aandele op ’n bruto grondslag (wat nog te sê ná belasting) gaan vaar.
Tog lyk dit asof die algemene belegger (a) of glo dit gaan wel so wees, of (b) glo hy/sy gaan die tydsberekening om weer terug in die mark te kom op ’n manier regkry.
Wat laasgenoemde strategie aanbetref, is historiese data nie aan jou kant nie.
Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Kontak hom by info@temp.sg-build.co.za.
Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. ProVérte Wealth & Risk Management is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.
.section-post-header {
background-color: #305f83;
color: #fff;
background-image: url(https://temp.sg-build.co.za/wp-content/uploads/2019/11/bg_image.png);
background-attachment: fixed;
background-position: center;
background-repeat: no-repeat;
background-size: cover;
height: 400px;
vertical-align: middle;
}