Besluite is nie vir sissies
03 Augustus 2019
Op ’n gelyke speelveld – as ons veronderstel dat mense se basiese geleenthede (soos opvoeding en huislike omstandighede) dieselfde is – wil ek my verstout om te sê die belangrikste faktor wat bepaal waar mense in hul lewe gaan beland, is die gehalte van hul besluite. Goeie of slegte geluk speel in mindere mate ’n rol. As jy dit as ’n formule sou uit druk, sou dit so lyk:
Sukses = gehalte van besluite +/- goeie of slegte geluk
Die belangrikheid van jou vermoë om goeie besluite te neem kan egter nie oorbeklemtoon word nie. Die goeie nuus is dat dit binne almal se bereik is. Dit is egter nie iets wat sommer natuurlik kom nie, aangesien ons as spesie nogal irrasioneel is. Irrasionaliteit is ook nie ’n vissie wat net in die lae-IK-dam rondswem nie; dit is ’n struikelblok vir van die intelligentste mense.
Een van die invloedrykste boeke wat die afgelope paar jaar oor die onderwerp geskryf is, is Thinking fast and slow deur Daniel Kahneman. Lees dit gerus as jy ’n kans het. Hoe oorkom ons dus hierdie geneigdheid om irrasionele of swak besluite te neem? Daar is baie slaggate waarvoor jy kan uitkyk, maar ’n mens moet eers bewus wees van hulle.
Een van die beste stukkies gereedskap wat jy onmiddellik kan inspan, is om die besluit se potensiële langtermynimplikasie te probeer verstaan. Dit beteken dat jy die vraag aan jouself anders gaan verpak. Dink gerus hier aan die korttermynimplikasies vs. die langtermynimplikasies van rook of ’n dieet waarin jou suikerinname baie hoog is.
Ek gee twee voorbeelde uit die alledaagse omgang met kliënte oor hul finansiële beplanning. Dit illustreer wat ek hiermee bedoel (die name is fiktief, maar nie die voorbeelde nie).
Voorbeeld 1
Dr. Frankenstein (45) is volgens ons berekeninge oorverseker ten opsigte van sy ongeskiktheidsdekking. Hy betaal R12 000 per maand aan sy uitgebreide risikovoordele. Die verlaging van sy enkelbedragongeskiktheidsdekking van sowat R4 miljoen gaan ’n besparing van “slegs” R600 per maand meebring. Is dit vir hom die moeite werd om die dekking te verlaag?
Voorbeeld 2
Sara (23) begin haar eerste werk. Nadat sy haar somme gemaak het, besluit sy om R1 000 per maand van haar salaris te spaar. Sy beplan dat dit jaarliks met 5% gaan eskaleer tot by haar aftrede op 65. Sy moet kies tussen twee beleggings – ’n matig aggressiewe belegging met ’n verwagte opbrengs van 10% per jaar of ’n meer aggressiewe belegging met ’n verwagte opbrengs van 12% per jaar.Hoe belangrik is die keuse hier, want 2 persentasiepunte ekstra op R12 000 per jaar is tog nie wesenlik nie, reg?
Wat is die langtermyn-implikasies?
Die beste manier om hierdie soort vraagstukke te benader, is om nie intuïtiewe besluite te neem nie, maar om die langtermyn-implikasie te bereken en dit dan te verdiskonteer na ’n waarde vandag. Hierdie “waarde” is dan eintlik die prys of waarde van die besluit.
In voorbeeld 1 sal dr. Frankenstein, indien hy die R600 per maand spaar tot en met ouderdom 65 (ons veronderstel ’n jaarlikse styging in die premie van 8% en ’n netto groeikoers van 10,5% per jaar op die belegging), R816 000 meer in sy “spaarbussie” hê. In huidige koopkrag kom dit neer op sowat R254 000. Gestel hy los dié geld dan eenvoudig uit om aan te hou groei, sonder dat enige verdere bydraes gemaak word. Dit los hom op 85 met ’n nalatenskap van R6 miljoen – R585 000 in vandag se koopkrag – wat eenvoudig nie sou bestaan het as hy aangehou het om die onnodige ekstra dekking te betaal nie. Wat soos ’n nietige besluit lyk, is ooglopend een van die groter finansiële besluite wat hy in dié stadium van sy lewe sou neem.
In voorbeeld 2 maak hierdie besluit oor een jaar maar ’n verskil van R120 in haar eindsaldo, maar op ouderdom 65 beloop die verskil R11,9 miljoen – sowat R1,85 miljoen in vandag se koopkrag! Toe nie so ligtelike besluit nie, nè?
Daar is nie genoeg plek in hier die rubriek om die legio van soortgelyke besluite wat mense daagliks oor hul geldsake neem te illustreer nie, maar hier is ’n paar foute wat ons gereeld teëkom.
- Mense ignoreer die impak van die hoë koste van kontraktuele spaarprodukte op die langtermynwaarde van hul belegging.
- Mense hou ná aftrede vol met die betaal van lewenspremies waar die premies so hoog raak dat dit hul aftreegeld bedreig.
- Die impak van te konserwatiewe beleggings word nie in ag geneem nie.
- Die impak van vermybare belasting op netto beleggingsbedrae word geïgnoreer.
- Mense neem nie die implikasie van aggressiewe premiepatrone op versekeringsprodukte op langtermyn in ag nie.
- Hulle dink nie oor wat die impak daarvan is as hulle onnodig geld bestee aan oorversekering nie (dikwels waar groepsvoordele private voordele dupliseer).
- Mense oorweeg nie die onnodige versekering van items (korttermynversekering) vs. die waarde van premies belê nie.
Net soos die korttermyn-uitwerking van elke besluit om ’n sigaret op te steek nie wesenlik voel nie, maar die langtermyn gevolge van hierdie “klein” verkeerde besluitjies potensieel dodelik kan wees, net so is baie van die ander besluite wat ons elke dag goedsmoeds maak potensieel baie skadelik vir ons oor lang termyn.
Tref deeglike onderskeid tussen eerste-orde-besluite (moet ek ’n trui aantrek of nie, blou sokkies of wit, gaan gholf speel of nie?) vs. tweede-orde-besluite (moet ek met hierdie persoon trou, moet ek hierdie belegging doen, drink en bestuur, huis koop, hoeveel moet ek betaal, ensovoorts. Swak besluite by laasgenoemde kan jou baie ver van koers af laat dwaal.
Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. ProVérte Wealth & Risk Management is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.
.section-post-header {
background-color: #305f83;
color: #fff;
background-image: url(https://temp.sg-build.co.za/wp-content/uploads/2019/10/Proverte_Oct19.jpg);
background-attachment: fixed;
background-position: center;
background-repeat: no-repeat;
background-size: cover;
height: 400px;
vertical-align: middle;
}