As die kristalbal nie help…

AS DIE kristalbal NIE HELP…

Dan weet jy: Politiek het min te doen met beleggingsopbrengs

07 July 2019

 
Verbeel jou dis Dinsdag-oggend 1 Desember 2015. Jou eerste koppie koffie vir die dag staan reg en ’n e-pos in jou inboks trek jou aandag.
 
Dit is van jou tjommie wat ’n hooggeplaaste in die ANC is (bly by my… hierdie is fiktief). Die onderwerp van die e-pos lui: Baie belangrik: Hierdie is net vir jou aandag. Jy lees met ongeloof hoe jou vriend vertel hy het gehoor Nhlanhla Nene gaan as minister van finansies vervang word met die Zuma-lojalis Des van Rooyen.
 
Jy leun verstom terug in jou stoel terwyl ’n kombinasie van woede en wanhoop oor jou spoel. Maar gou word jy opgewonde, want jy besef jy het volgende week se nuus vandag al ontvang. Jy kan jou finansieel hierteen verskans, en moontlik selfs daaruit voordeel trek. Net voor jy besluit hoe jy jou beleggings gaan wysig, kyk jy eers na historiese data oor die vorige 3,5 jaar (ek gebruik soortgelyke tydperke sodat die omvang van totale opbrengs later makliker vergelyk kan word). Dit bevestig jou vermoede dat politiek die hoofrede vir Suid-Afrika se onderprestasie vergeleke met die buiteland is en dat hierdie nuwe inligting eenvoudig dié tendens bevestig. Sien die grafiek hiernaas.
 
 
 
 
So hier is my vraag: Met hier inligting tot jou beskikking, wat maak jy? ’n Refleksreaksie sou dikteer (soos baie finansiële artikels in die week ná Nene-gate) dat jy eenvoudig voor die voet van jou Suid-Afrikaanse bates ontslae moet raak en alles in die buiteland belê.
 
Kom ons aanvaar vir die doel van hierdie oefening jy kon hierdie transaksies binne ’n week afgehandel kry en op 8 Desember (een dag voor pres. Jacob Zuma se aankondiging) sien jy amper uit na die aankondiging.
 
Draai die horlosie 3,5 jaar aan na vandag en sien op die meegaande grafiek hoe die verskillende bateklasse wel gevaar het.
 
Dit klink totaal onlogies, maar die beste opbrengs (voor belasting) wat jy in dié tyd kon kry, was om vir die Suid-Afrikaanse regering geld te leen deur die koop van staatseffekte.
 
Die tweede beste belegging was Suid-Afrikaanse aandele en die derde beste belegging was om jou geld in die geldmark te belê.
 
Suid-Afrikaanse bates het, met die uitsondering van genoteerde eiendom, hul buitelandse eweknieë in randterme uitgestof. Buitelandse staatseffekte en dollar-kontant het onderskeidelik 0% en 1% in totaal gelewer. Hierin lê ’n paar lesse wat ons in ons spreekwoordelike pyp kan sit en rook: 
 
  • Selfs al het jy ’n kristalbal oor politieke gebeure, is dit bitter moeilik om geld te maak uit dié inligting. Almal het byvoorbeeld verwag dat die Amerikaanse mark ’n semi-ineenstorting sou hê as Donald Trump president word. Die teenoorgestelde het gebeur.

    Die Suid-Afrikaanse aandelemark het beter gevaar toe Zuma president was as toe Nelson Mandela of Thabo Mbeki president was. Soos in Trump se geval, sal die afleiding dat Zuma se “goeie leierskap” tot die beter prestasie van die beurs gelei het, ’n verbeeldingsvlug wees. 

  • Daar word baie geskryf oor die onlangse swak prestasie van Suid-Afrikaanse bates. Die feit is egter dat die afgelope 3,5 jaar uiters taai was ongeag van waar jy belê was. Onthou dat bogenoemde opbrengste totale opbrengs oor 3,5 jaar is. Dit was basies net Suid-Afrikaanse staatseffekte, Suid-Afrikaanse aandele en buitelandse aandele wat beter as Suid-Afrika se inflasiekoers kon vaar (ná belasting) en ook maar met ’n baie klein marge.

      Suid-Afrikaanse opbrengste oor die voorafgaande 3,5 jaar was heeltemal in pas (eintlik beter) as die langtermyn-verwagtinge, maar is eenvoudig oorskadu deur buitelandse bates ná wesenlike randverswakking in dié siklus. Mense ignoreer die word siklus gereeld tot hul eie nadeel. 

  • Die onlangse verlede se groei (goed of sleg) moet nooit in die verre toekoms in geëkstrapoleer word nie. Nie eens die nabye toekoms lyk noodwendig soos die onlangse verlede nie. Diversifikasie bly jou beste vriend.
  • Dit is waarskynlik nodig om te sê: Die uiters swak prestasie van Suid-Afrikaanse eiendom het niks te doen met residensiële eiendom of die onteieningsretoriek (weer eens politiek) nie, maar is ’n kombinasie van ’n legio ander redes, soos aanvangsvaluasies, swak finansiële prestasie en vrae oor bestuurspraktyke. 

Verstaan my reg. Hierdie is nie ’n volstruis-benadering tot Suid-Afrika se probleme nie. Ons is almal deeglik bewus van die uitdagings en jou beleggingstrategie behoort dit in ag te neem. Dit is wel belangrik dat ons onderskei tussen wat soos die regte besluit vóél en een wat deur ontleding ondersteun word.

 
Moet nooit vergeet dat vrees ’n emosie is nie en gelaaide emosies is nie ’n goeie fondament vir besluitneming nie. Ek meen ons sal oor ’n jaar of wat dalk emosioneel beter voel oor ons land.
 
Beteken dit dat Suid-Afrika ewe skielik weer ’n goeie beleggingsbestemming gaan wees? Ek wil u aanraai om dié twee gedagtes te skei. Jy neem die beste besluite as dit berus op rustige ontleding, nie op emosie nie.  
 
Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Kontak hom by info@temp.sg-build.co.za.
 
Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. ProVérte Wealth & Risk Management is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.no. 5966.

.section-post-header {
background-color: #305f83;
color: #fff;
background-image: url(https://temp.sg-build.co.za/wp-content/uploads/2019/08/glass-ball.jpg);
background-attachment: fixed;
background-position: center;
background-repeat: no-repeat;
background-size: cover;
height: 400px;
vertical-align: middle;
}

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X