Dink mooi oor vererwing

Dink mooi oor vererwing

Ons kom gereeld die “plan” teë waar daar deur middel van versekering probeer word om sekere kinders se erflating uit te sorteer, terwyl ander vaste bates (soos ’n plaas of ’n onderneming) “erf” terwyl die erflater nog leef.

Dit is veral ’n gewilde strategie onder boere waar die seun argumentsonthalwe kom boer en die susters op een of ander manier “vergoed” moet word vir die feit dat hulle nie die plaas erf nie.

Hier is ter verduideliking ’n onlangse voorbeeld wat ons gesien het:

’n Makelaar stel voor dat ’n kliënt R20 miljoen se lewensdekking bekom om sy vererwingsprobleem op te los.

Die polis lyk so:

  • Ouderdom tans = 63
  • Dekkingsbedrag = R20 miljoen
  • Premie = R18 655 per maand
  • Dekkingseskalasie = 7% per jaar
  • Premie-eskalasie = onbekend, ouderdomsverwant

As die onderneming of boerdery in hierdie stadium goed vaar en goeie winste maak, word die  papierwerk gewoonlik gedoen, want ’n vinnige boeresom sê dat jy 89 jaar lank R18 655 per maand moet betaal voordat jy by R20 miljoen kom, maar helaas is dinge mos nou nie so eenvoudig nie!

As ons aanvaar hierdie persoon is gesond, rook nie en leef ’n stresvrye lewe, is dit onbillik om te verwag dat hy dalk gemaklik 84 jaar oud kan raak? Ek vermoed nie.

Indien hy dan wel hierdie rype ouderdom bereik, sal sy situasie soos volg daar uitsien.

  • Dekkingsbedrag op 84 = R82,8 miljoen (R24,3 miljoen in vandag se koopkrag indien inflasie 6% is)
  • Maandelikse premie = R370 133 (sowat R109 000 in vandag se koopkrag).

Oor die voorafgaande 21 jaar het sy uitbetaling dus reëel met 21,5% toegeneem terwyl sy premies met 484% toegeneem het! In hierdie stadium styg sy premie ook jaarliks verder met sowat 16,5%.

Die komplikasies met hierdie plan:

  • Daar kom ’n punt dat die premies eenvoudig nie volhoubaar is nie. Wat gewoonlik dan in die slag bly, is ’n gedeelte van die dekkingsbedrag of in ekstreme gevalle die hele polis.
  • Die waardes vir hierdie polisse word grotendeels uit die duim gesuig en is gewoonlik nie naastenby in pas met die waarde van die grond of onderneming wat vererf moet word nie. Dit lei dikwels tot groot ongelukkigheid en onenigheid in ’n familie.

Die feit dat die pa nie polisse kan uitneem ter waarde van die plaas nie is natuurlik verstaanbaar, want as die grond en toerusting R50 miljoen werd is, kan jy tog nie vir elke dogter ’n R50 miljoen-polis uitneem nie, want die seun erf nie die geld in sy sak nie, hy het net die bate tot sy beskikking en “hy kry eintlik maar net ’n werk”.

Hierdie redenasie hou egter nie water nie, want die waarde van wat die seun erf, selfs al verkoop hy nooit die plaas nie, is die toekomstige winste wat daardie bates gaan of kan genereer.

As voorbeeld: As ’n plaas 25 jaar lank ’n verwagte gemiddelde nabelaste wins van R1 miljoen per jaar gaan oplewer, wat jaarliks met 6% styg (vandat die seun oorneem op 40 en tot hy 65 is en weer die leisels moet oorgee) is die waarde daarvan alleen R19,9 miljoen (verdiskonteringskoers van 8% gebruik).

Dan het ons nog geen waarde op die plaas of toerusting self geplaas nie.

  • Die pa, en dikwels die ma ook, moet eers sterf voor die dogters ’n sent erf. Met mense wat al hoe ouer word, raak hierdie ’n groter probleem.

As albei ouers of selfs net een van hulle tot in hul 90’s leef, gaan die dogters eers erf wanneer hulle moontlik al oor die 60 is. In hierdie stadium van hul lewe gaan die erfgeld bitter min verskil aan die verloop van hul lewe maak.

  • Omdat bemakings aan jou dogters nie vrygestel is van boedelbelasting nie, gaan die netto uitbetalings van die polisse slegs tussen 75% en 80% wees van dit waarvoor jou lewe verseker is.
  • Hierdie planne maak ook nie voorsiening vir omstandighede waar die boerdery (wat gewoonlik die premies betaal) deur ’n kontantvloei krisis gaan, heeltemal ondergaan of gedeeltelik of in geheel verkoop word nie.

Ek het nog bitter min van hierdie planne gesien waar almal tevrede is met die uitkoms of selfs die verwagte uitkoms.

Ek kan ook met sekerheid sê dat nie een van hierdie mense bedoel om onregverdig te wees of onmin onder hul eie kinders te saai nie.

Dit is egter ongelukkig heel dikwels die onbedoelde uiteinde van hierdie tipe beplanning.

Is hierdie (lewensversekering) die enigste manier om ’n regverdige vererwing te bewerkstellig, of is dit ’n “eenvoudige” oplossing en toevallig ook baie winsgewend vir die persoon wat dit voorstel?

Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie: Lewensversekering is steeds onmisbaar om die koste verbonde aan dood (soos boedelkoste, eksekuteursgelde en soms verbande) af te los.

Wat vererwing betref, is daar na my mening meer sinvolle oplossings. Van hierdie oplossings gaan ’n groter kopskuif verg as ander, maar as ek na die onbeplande uitkomste van die versekeringsplan kyk, wil ek my verstout om te sê jy en jou raadgewers sal jul tyd sinvol spandeer om die alternatiewe te ondersoek.

Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Volg hom op Twitter by @Andro720911. Hy skryf gereeld vir Sake.

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. ProVérte Wealth & Risk Management is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.

Andró Griessel

.section-post-header {
background-color: #305f83;
color: #fff;
background-image: url(https://temp.sg-build.co.za/wp-content/uploads/2018/05/Proverte_May.jpg);
background-attachment: fixed;
background-position: center;
background-repeat: no-repeat;
background-size: cover;
height: 400px;
vertical-align: middle;
}

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X