Is hierdie 2018 of 2008?
As jy ‘n “aggressiewe” belegger in groeibates is sal jy verskoon word as jy jou Maart kwartaalstaat oopmaak en dink iemand het ‘n April-gek grap op jou gespeel. Die afgelope 5 kalender maande (sedert November) was wat ek kon sien die moeilikste vir beleggers in groeibates in ‘n dekade. Slegs 2008 (met die groot finansiële krisis) was moeiliker, maar toe het genoteerde eiendom darem redelik kop bo water gehou. Die afgelope 5 maande was daar nêrens om weg te kruip wat groeibates aanbetref nie.
Sien grafiek hier onder.
- Bron: Allan Gray “research tool”.
Soos verwag kan word kry ons nou heelwat eposse oor prestasie (of eerder gebrek daaraan) met bekommerde beleggers (veral die wat nog nie ‘n volle mark siklus beleef het nie) wat wonder of dit nie maar beter sou wees om hulle geld onder ‘n matras te bêre nie. 5 Maande is egter ‘n betreklike kort periode en dit is ‘n relatiewe maklike gesprek om te hê, want daar is baie data en slim gesegdes om aan te haal, maar wat sê ‘n mens vir iemand wat kort voor die finansiële krisis in 2008 begin belê het en nou na sy syfers kyk? Hierdie persoon kan tereg opmerk dat sy 10 jaar syfers vêr verwyder is van wat enige finansiële adviseur of artikel vir hom sou sê realistiese verwagtiginge behoort te wees uit groeibates oor ‘n 10 jaar periode.
Kom ons gaan terug na 1995 om ‘n paar punte oor beleggings in groeibates beter te illustreer en hopelik sal ván hierdie jou help om beter besluite oor jou eie toekomstige beleggings te maak.
Die Suid-Afrikaanse aandeelbeurs se baie lang (100 jaar plus) termyn opbrengs is in die orde van 7% bo inflasie (dividende ingesluit). Wanneer jy dus met ‘n voornemende kliënt sou praat wat in groeibates (hoofsaaklik aandele) wou belê sou dit in die verlede ‘n goeie vertrekpunt wees om verwagtinge aan te anker. As jy aanvaar het fondsbestuurders en ander tussengangers sou darem die indeks tot so mate uitpresteer dat hulle minstens hulle eie fooi betaal, sou jy dus, gegewe jou ervaring van inflasie op daardie stadium (ongeveer 8.5% pj) ‘n gemiddelde opbrengs koers van tussen 15% en 16% per jaar verwag het vir die lang termyn. Natuurlik is inflasie nie staties nie en behoort jou nominale verwagting van groei aan te pas relatief tot inflasie soos die langtermyn gemiddelde inflasie koers toeneem of afneem. Sien dan voorts die grafiek hier onder van die JSE so totale opbrengste (dividende ingesluit) tussen 1995 en 2017 met die gepaardgaande analise:
Sleutel
Die rooi en groen stawe verteenwoordig die jaarlikse opbrengste wat behaal is deur die JSE (dividende ingesluit).
Die egalige soliede grys lyn is die rollende inflasie plus 7% “verwagte langtermyn opbrengs”
Die soliede swart lyn is die kliënt wat op 1 Januarie 1995 sy belegging gemaak het se rollende gemiddelde opbrengs.
Hier is ‘n paar interessante brokkies inligting wat handig te pas kan kom tydens finansiële besluitneming:
- Die inflasie + 7% teiken het oor die afgelope 23 jaar afgekom van ongeveer 15.7% pj na ongeveer 12.8%. Jou eie verwagtinge oor die nominale opbrengs wat jy uit aandele en ander beleggings behoort te kry moes dus ook aanpas.
- Die rooi stawe verteenwoordig al die jare waarin die prestasie laer was as wat die langtermyn verwagte opbrengs was. Soos gemiddeldes maar werk sou jy dus in 48% van die jare jou teiken opbrengs onderpresteer. Die ander 52% maak egter natuurlik daarvoor op.
- Die belegger wat op 1 Jan 1995 begin belê het sou na 4 jaar ‘n skamele gemiddelde opbrengs van 1.08% pj uit sy aandeel belegging verdien het. Dit vat ‘n man op ‘n perd om dan nog die langtermyn storie te glo. Die persoon wat op daardie punt verkoop het sou natuurlik die volgende jaar se 71% opbrengs gemis het en vir ewig kapitaal vernietig het.
- ‘n Soortgelyke lot sou wag op iemand wat aan die begin van 2008 belê het. Na 4 jaar sou sy gemiddelde opbrengs maar ‘n skamele 5.5% gewees het.
- Omgekeerd van bogenoemde sou iemand wat aan die begin van 1999 of 2009 belê het vir ‘n geruime tyd ‘n gemiddelde opbrengs van hoër as die verwagting geniet het wat stelselmatig sou verlaag.
- Baie belangrik: Aan die begin jare van jou belegging is die gemiddelde opbrengs baie wisselvallig en die gemiddelde kan vêr verwyder wees van verwagting, maar baie soos die brandstof verbruik op jou motor wat na die 100ste tenk beswaarlik verander, vind jou belegging ook sy langtermyn ritme en is die langtermyn uitkoms relatief voorspelbaar. Hierdie lang termyn kan egter, as jy ‘n swak vertrekpunt gehad het, heelwat meer as 7 jaar wees.
- Let op hoe naby die swart en grys lyne aan mekaar begin beweeg op die lang termyn. Alhoewel die adviseur wat dus vir sy klient ‘n verwagting geskep het dat sy belegging oor die lang termyn in die omgewing van inflasie + 7% behoort te presteer soos ‘n sielsieke gelyk het na 4 jaar, was hy reg op die langtermyn. Die persoon wat in 1995 begin belê het sou egter 9 jaar moes wag om dit te besef en die persoon wat in 2008 begin belê het is steeds nie naby daar aan nie (na 10 jaar). Die hartseer uitkoms hiervan is egter dat baie mense lank voor hierdie datums aanbreek moed verloor (en kan jy hulle kwalik neem?) en afwyk van hulle aanvanklike plan.
Ten slotte: As jy tyd aan jou kant het, jy in kwaliteit groeibates belê is en jou fooie binne perke is, probeer ontspan indien jy agter “skedule” is. Maak seker jy verstaan jou relatiewe prestasie eerder as absolute prestasie. As jou horison lank genoeg is behoort jou uitkoms relatief tot inflasie, al voel dit gewis nie altyd so nie, relatief voorspelbaar te wees. Nie jou adviseur of enige slim kommentator kan egter die orde waarin opbrengste kom voorspel nie.
Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Volg hom op Twitter by @Andro720911. Hy skryf gereeld vir Sake.
Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. ProVérte Wealth & Risk Management is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.
.section-post-header {
background-color: #305f83;
color: #fff;
background-image: url(https://temp.sg-build.co.za/wp-content/uploads/2018/04/April_image.jpg);
background-attachment: fixed;
background-position: center;
background-repeat: no-repeat;
background-size: cover;
height: 400px;
vertical-align: middle;
}