“Hoe raak die Steinhoff debakel my” en “moet ek nie nou Steinhoff aandele koop nie?”. Hierdie is by verre die 2 mees algemene vrae wat finansiële beplanners en ander raadgewers die afgelope 2 weke moes antwoord. Laat ek begin deur te sê dat behalwe vir ‘n paar bekende persone, organisasies wat groot blootstelling aan Steinhoff gehad het en ander individue wat groterige blootsellings (meer as 10% van hulle aandeelportefeuljes) aan Steinhoff gehad het, was die impak wyd, maar vir meeste mense nie diep nie.
Wat ek daarmee bedoel is dat meeste mense wel hierdeur geraak is op ‘n direkte of indirekte manier, maar dat die impak op jan alleman (uitgesluit die groepie hier bo) nie dramaties was nie en derhalwe nie blywende letsels op hul beplannings behoort te gelaat het nie.
Wat weereens baie duidelik geraak het die afgelope twee weke is hoe vatbaar ons is vir kognitiewe vooroordele en denkfoute. Ons het alles gesien van “hindsight bias” tot rasionalisering tot kognitiewe dissonansie en natuurlik die eeu oue vrees en gulsigheid. Die sage het begin soos ‘n Jason Bourne rolprent, propvol drama en aksie, maar soos met hierdie spioen rolprente moet jy 20 minute in die prent in (nadat die stof gaan lê het en alles aan flarde geskiet is) baie hard konsentreer om te weet wat nou eintlik aangaan. Meeste mense voel tans so oor Steinhoff.
Die aandeelprys is met die skryf hiervan meer as 90% laer as sy hoogste prys behaal in April 2016. Dit is dus bloot natuurlik dat baie mense nou wil nader staan om ‘n kans te waag dat dit dalk weer drasties styg. As jy geld het wat ‘n gat in jou sak brand en ook met hierdie vraag in jou kop rondloop, sien asseblief onderstaande besluitnemings padkaart. Miskien help dit?
Uit bogenoemde behoort die volgende duidelik te wees:
- As jy nie voor die debakel in Steinhoff belê was nie of ‘n gereelde belegger in individuele aandele was nie het jy waarskynlik geen besigheid om nou hierdie aandele te wil koop nie.
- Moenie jou verwagtinge “anker” op die feit dat die prys R90 was op ‘n stadium nie. Die hoogste prys wat die aandeel behaal het is nou irrelevant. As jy oorweeg om hiervandaan Steinhoff te besit gaan dit oor wat die werklike “waarde” van die oorblywende besigheid gaan wees nadat die stof gaan lê het en almal wat betaal moet word betaal is.
- As jy reeds die aandele in ‘n aandeelportefeulje besit is dit waarskynlik nou minder as 1% van jou portefeulje. Wat my aanbetref behoort jy dieselfde besluitnemingsproses te volg as hier bo. As jy dus by die groen blokkie opeindig sou ek dink daar is ‘n sterk saak uit te maak dat jy jou posisie moet groter maak. Indien nie, behoort jy die aandele te verkoop en jou kapitaal elders aanwend.
- Konsentrasie risiko (groot blootstelling aan een aandeel) bly ‘n groter risiko as wat meeste mense besef. Moenie dink omdat jy belê is in ‘n groot en bekende maatskappy dit is risiko vry nie. Daar is ‘n gesegde wat sê “jy hoef nie jou geld te verloor op dieselfde manier as wat jy dit gemaak het nie”.
Belangrik: Vir mense wat wesenlike blootstelling aan Steinhoff gehad het, maar vir welke rede aan hierdie posisies wil vashou is daar ‘n paar planne wat moontlik die pyn kan verlig. Een van hierdie is om jou verlies te realiseer en die aandele onmiddelik terug te koop in ‘n uitkeerpolis struktuur met opgehope verliese (daar is enkele van hierdie strukture beskikbaar).
Indien die aandeel dan wel herstel sal die NUWE kapitaalwins wat jy van huidige vlakke af maak vry van belasting (slegs dividendbelasting) wees terwyl jy die verlies kan gebruik in jou bestaande portefeulje om moontlik ander konsentrasie risiko (waar daar weer heelwat wins opgeloop het) te verlig. Praat gerus met jou belasting konsultant of gesertifiseerde finansiële beplanner oor opsies hier.
.section-post-header {
background-color: #305f83;
color: #fff;
background-image: url(https://temp.sg-build.co.za/wp-content/uploads/2018/05/proverte_3054.jpg);
background-attachment: fixed;
background-position: center;
background-repeat: no-repeat;
background-size: cover;
height: 400px;
vertical-align: middle;
}