Wat bergfiets-ry jou oor beleggings kan leer
Daar laat ek my mos die ander dag ompraat om in te skryf vir ’n 40 km-bergfietswedren in die Paarl. Die feit dat ek die jaar nog net een keer vantevore op ’n fiets was in die berge in Slowenië en dit amper tot ’n internasionale mediese ontruiming (lees: hartaanval hoog in die Alpe) gelei het, en my eie fiets tuis netjies in ’n kokon van spinnerakke toegespin was, het nie as ’n rooi vlag by my opgekom nie.
Tydens hierdie foltering het daar, buiten vir visioene van mense wat lank reeds oorlede is, tog ’n paar bruikbare gedagtes by my opgekom wat spesifiek van toepassing is op finansiële beplanning en beleggingsbestuur.
Ek deel graag ’n paar hiervan met julle.
Wat op die etiket staan, is nie noodwendig wat in die blikkie is nie
By die wegspring was dit moeilik om te onderskei tussen bekwame ryers en die paloekas.
My lang beenhare het ’n bietjie my geheim verklap, maar buiten daarvoor kon ek deurgaan vir ’n bekwame fietsryer. Daar was manne met boepies dubbeld so groot soos myne, maar hulle het sonder uitsondering vir my letterlik laat stof eet op die dag.
Net so, wanneer jy jou finansiële adviseur en/of fondsbestuurder kies, moet jy versigtig wees om te veel ag te slaan op die bemarkingsmateriaal of mooi broodjies. As hy nie ’n dupliseerbare, weldeurdagte proses volg met ’n lang geskiedenis van sukses nie, is die kans goed dat jy ook stof gaan eet.
Berei jouself sielkundig voor
In my geval was ek baie bly dat ek nie vooraf na die topografie van die resies gekyk het nie, want ek sou dalk ’n maagaandoening gekry het as ek bewus was van die eerste 12 km se reguit opdraande.
Wanneer jy egter jou swaarverdiende geld belê, moet jy ’n baie goeie idee van die potensiële “topografie” kry. Die opdraandes kan by tye steil wees.
As jy nie sielkundig hierop voorberei is nie, kan jy handdoek ingooi terwyl die einde van die bult net om die volgende draai lê. Baie soos met fietsry word ’n steil opdraand (swak opbrengste), dikwels gevolg deur ’n steil afdraand (baie goeie opbrengste).
Maar as jy handdoek ingooi met beleggings, verander jy ’n tydelike steil bult in ’n amper permanente geleidelike opdraande pad.
Die uitwerking van laasgenoemde op jou welvaart is wesenlik meer nadelig.
Wees versigtig aan wie jy jou ore uitleen
By die 8 km-merk het ’n vrou met blou hare en ’n broek wat soos ’n Madame Zingara-kostuum gelyk het, verkondig dat ons kan ontspan, ons het dit gemaak, “van hier af is dit basies net afdraand”.
Ek vermoed sy het die kaart verkeerd om gelees, want daarvandaan het die opdraande eintlik eers begin byt.
As mense is ons nogal goedgelowig en enige mening word as geloofwaardig beskou… soveel te meer as dit van iemand in ’n gesagsposisie kom.
Op die oog af het die vrou nie vir my soos ’n deelnemer gelyk nie, maar wel soos iemand wat by die organisering betrokke was.
Op grond hiervan het ek my volgestop by die volgende waterpunt… want ’n vol maag loop mos lekker op ’n afdraand.
Die lessie hier was dat jy eerstens jou huiswerk self moet doen, ’n plan moet hê vir hoe jy jou rit (lees: beleggings en finansiële beplanning) gaan hanteer en dan sorgvuldig besluite neem oor enige veranderings wat jy daarna aan hierdie strategie aanbring.
Moenie emosionele besluite neem op grond van kommentaar wat iemand in die verbygaan lewer nie, of dit nou in die sakebylae van die koerant of by ’n braaivleisvuur is nie.
0,83 m per sekonde is baie!
Die persoon wat die resies gewen het, het ongeveer 0,83 m per sekonde vinniger gery as ek.
As jy in ag neem dat ek by elke waterpunt uitgespan het en probeer het om die voorraad Mars Bars manalleen op te eet, terwyl hy waarskynlik net ’n piesang gegryp het en gery het, is die voorsprong wat hy op die fiets gehad het waarskynlik baie nader aan “slegs” ’n halwe meter per sekonde.
Dit het egter veroorsaak dat hy amper ’n uur voor my klaargemaak het. Anders gestel, teen die tyd dat hy klaargemaak het, het ek waarskynlik nog 10 km of meer oorgehad van ’n 40 km-resies.
Dit is ’n astronomiese gaping wat deur klein, inkrementele beter prestasie veroorsaak is.
40 km in die fietsrywêreld is soos drie jaar in die beleggingswêreld.
Dink nou aan ’n 400 km-resies en stel jou voor met hoeveel ligjaar hierdie persoon my sal wen. Jy sal dan hopelik kan insien dat konstante klein beter prestasies op ’n beleggingsportefeulje oor tyd ’n massiewe verskil maak.
Ek sien nog daagliks hoe mense heeltemal te blasé hieroor is.
R1 miljoen vandag wat groei teen 10% per jaar versus 12% per jaar oor die volgende 30 jaar is uiteindelik die verskil tussen R17,45 miljoen en R29,95 miljoen, of volgens vandag se koopkrag, sowat R2,2 miljoen.
Dit is wat ek sommer noem die “kannie-worry-premie” of die koste wat jy betaal omdat jy nie bereid is om moeite te doen om jou beleggingsproses, die koste verbonde aan jou produk of die mense wat jou geld bestuur se prestasiegeskiedenis te kontroleer nie.
Ten slotte: Ek was al baie spyt dat ek iets begin het, maar amper nog nooit wanneer dit uiteindelik klaar is nie. Baie min waardige uitdagings wat jy aanpak in die lewe, is maklik.
As dinge te maklik gaan, moet jy maar weet dat daar ’n opdraande aan die ander kant wag.
Berei jouself behoorlik voor en pak maar die bulte aan.
Die bestemming is die tydelike foltering werd.
Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Volg hom op Twitter by @Andro720911. Hy skryf gereeld vir Sake.
Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. ProVérte Wealth & Risk Management is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.

.section-post-header {
background-color: #305f83;
color: #fff;
background-image: url(https://temp.sg-build.co.za/wp-content/uploads/2017/12/proverte_001.jpg);
background-attachment: fixed;
background-position: center;
background-repeat: no-repeat;
background-size: cover;
height: 400px;
vertical-align: middle;
}