Bly kalm, al lyk dit of Skip SA sink

Bly kalm, al lyk dit of Skip SA sink

Enigiemand wat onlangs die dramatiese transitorooftog in Johannesburg gade geslaan het en ver­lede week toegekyk het hoe ­Pravin Gordhan as minister van finansies afgedank word, sal vergewe word as hulle dink die Suid-Afrikaanse skip is aan die sink en sedert die begin van die week besig is om allerhande reëlings te tref om kapitaal (en dalk ook hulself) uit die land te kry.

Baie Suid-Afrikaners is ook gefrustreerd met die feit dat hulle oënskynlik niks kan doen om verandering teweeg te bring nie en voel dan ’n ekstra motivering om met hul “voete” (lees kapitaal) te stem.

Die probleem met hierdie stem is dat dit gewoonlik nie die gevolg is van ’n weldeurdagte proses nie, maar wel van ’n emosionele reaksie.

As daar een ding is wat ek geleer het in die finansiële markte, is dit dat emosie en goeie beleggingsbesluite nie goeie bedmaats is nie.

Wanneer jy reaktief optree, soos baie mense die afgelope week weer gedoen het of besig is om te doen, kan jy amper verseker wees dat jy suboptimale besluite neem.

Jou irrasionaliteit is moontlik nie dat jy dink die rand gaan ewe skielik val tot R20 teenoor die dollar nie, maar dat jy nou weens die 10%-verswakking die “boot” gemis het om wel buitelands te diversifiseer terwyl dit dalk noodsaaklik is vir jou portefeulje.

Ongeag die gevolg, as jou motief vir ’n besluit verkeerd is, was dit ’n verkeerde besluit. As die gevolg toevallig positief is, beteken dit nie dit was ’n goeie besluit nie.

Hoe moet so ’n besluit dan benader word om seker te maak emosie en ander kognitiewe slaggate beduiwel nie jou besluitnemingsproses nie?

Kry perspektief

Ten tyde van die skryf van hierdie artikel verhandel die rand teen R13,77 teenoor die dollar. Op 24 Maart, die sterkste vlak van die rand die afgelope 20 maande, het die rand op R12,40 gesluit.

Dit verteenwoordig ’n versterking van die dollar teenoor die rand van 9,76%.

Dit is ’n wesenlike beweging, maar in die rand-dollarwisselkoerswêreld is dit amper ’n kwartaallikse gebeurtenis.

In 2016 het die rand nie minder nie as vier soortgelyke verswakkings teenoor die dollar ­ervaar, maar ondanks daarvan meer as 18% teen die dollar ­gewen vir die jaar.

’n Jaar gelede was die rand R14,67 teenoor die dollar. As ­iemand toe vir jou moes vra of jy dollars sal koop teen R13,61, sou jy?

En wat van 20 Desember 2001 (meer as 15 jaar gelede) toe die rand op R13,13 was? Sou jy toe bereid wees om ’n weddenskap te neem dat die rand vandag teen R13,61 sou verhandel?

Onthou hoe wisselvallig ons geldeenheid is. Die grafiek wys ’n paar voorbeelde uit die verlede waar die rand met meer as 20% teenoor die dollar verswak het.

Ek het ’n vermoede die letsels van die dramatiese verswakking van die rand in 2001 en 2008 is nog ingegraveer in baie mense se geheue en elke keer dat “daai ou” iets doen wat die oë laat rek, aanvaar almal die rand gaan weer met 50% of meer verswak.

Daar is twee goed om in gedagte te hou: Albei dié gebeurtenisse was weens internasionale finansiële markskokke en nie weens plaaslike politiek nie. ) Selfs al het die rand wesenlik verswak in hierdie ­tydperke, het dit weer al die verliese teruggewen in die daaropvolgende twee jaar.

Wat is jou plan?

Mense se motiewe waarom hulle nou so gou doenlik geld wil “uitvat”, verskil.

Daar is diegene wat dink jy kan vinnig ’n groot klomp geld maak en dan is daar diegene wat net hul bates wil beskerm teen ’n Zimbabwe-situasie.

My ondervinding is dat daar net aan die eerste stap gedink word, maar nie aan wat daarna moet gebeur nie.

Gestel ons koop vandag dollars met jou rande en die rand verswak wel verder met nog 10% in die volgende maand, bring jy dit weer terug om die wins in geld om te sit, of bly dit “vir ewig” in die buiteland?

Belê jy in aandele of effekte of koop jy net dollars? Wanneer bring jy dit terug?

En wat maak jy as die rand versterk onmiddellik nadat jy dollars gekoop het (soos met almal gebeur het wat net ná Nenegate in Desember 2015 inderhaas hulle geld “uitgevat” het)?

Oor die afgelope 20 jaar was buitelandse kontant (dollars) die swaks presterende bateklas met die meeste wisselvalligheid, beswaarlik iets waarvan ek te veel in my portefeulje vir lang tydperke wil hê.

Wanneer jy dus dollars koop as deel van ’n wins- of beskermingstrategie, moet jy die tweede gedeelte van die transaksie óók regkry wat tydsberekening betref. Hou jy die dollars “vir ewig” en die geskiedenis herhaal homself, gaan jy nie baie tevrede wees met die uitkoms nie.

Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie: Ek probeer nie ’n saak vir Suid-Afrika of die rand uitmaak nie.

Wat ek wel, saam met soveel ander skrywers die laaste tyd, net weer vir lesers op die hart wil druk, is dat jou swaarverdiende kapitaal nie lukraak rondgeskuif moet word nie, maar deel moet uitmaak van ’n weldeurdagte langtermynplan.

Wanneer daardie plan in werking is, moet daar baie aandagtig gedink word voordat jy wesenlik afwyk. Korttermynskommelinge in markte of wissel- koerse behoort nie jou arm te draai nie.

Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Volg hom op Twitter by @Andro720911. Hy skryf tweeweekliks vir Netwerk24.

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. ProVérte Wealth & Risk Management is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.

Andró Griessel

.section-post-header {
background-color: #305f83;
color: #fff;
background-image: url(https://temp.sg-build.co.za/wp-content/uploads/2017/05/proverte_389.jpg);
background-attachment: fixed;
background-position: center;
background-repeat: no-repeat;
background-size: cover;
height: 400px;
vertical-align: middle;
}

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X