Genoteerde eiendom wen met ‘n myl

Genoteerde eiendom wen met ‘n myl

Meeste mense, met die uitsondering van Donald Trump dalk, kon nie gou genoeg afskeid neem van 2016 nie.  Dit was maar net een van daardie jare wat maar regtig kon end kry, was dit nie?  Een van die brokkies finansiële inligting waarna ek die meeste uitsien as ek aan die begin van ‘n nuwe jaar my plakkies vir toe skoene verruil, is die sogenaamde “smartie box” voorstelling van die opbrengs van bate-klasse oor die vorige dekade of twee, opgedateer met die nuutste inligting van die vorige jaar. Sien gerus hier onder hoe die 8 hoof genoteerde bate-klasse gevaar het oor die afgelope 20 jaar van 1997 tot 2016.  In elke jaar dui die rooi blokkie die swakste presteerder aan en die groen blokkie die beste presteerder.

As bogenoemde klomp syfers jou oormekaar laat kyk sien gerus die opsomming van die hoof gedagtes wat ek hieruit neem hier onder:

  • SA genoteerde eiendom was met ‘n fris marge die beste presterende bateklas oor die totale 20 jaar periode.  ‘n R100 000 belegging sou gegroei het tot R4.1 miljoen terwyl die tweede beste presterende bateklas (SA Aandele) tot “slegs” R1.5 miljoen sou toeneem.  Alles in kontant sou jou R100 000 laat groei tot ‘n skamele R611 000.
  • Sien die dramatiese afname in die prestasie van SA bates van die eerste na die tweede dekade.  Let ook op dat as jy oor die afgelope 10 jaar nie ‘n wesenlike blootstelling aan SA genoteerde Eiendom gehad het nie, jy goed sou doen om ‘n gemiddelde opbrengs op beleggings van meer as 10% te behaal ongeag van waarin anders jy belê het.
  • Onthou die artikel “jy kan verdrink in water van gemiddeld 3cm diep” waarin ek die probleem van gemiddelde opbrengste uitgewys het.  As jy enige beplanning gedoen het 10 jaar gelede op die gemiddelde opbrengs van bates oor die periode 1997-2006 sou jy nou baie ver van koers af wees.  Ek wil my verstout om te sê dat die langtermyn gemiddelde van veral SA bates (na 20 jaar) moontlik steeds veel meer optimisties is as wat die werklike uitkoms oor die volgende 10 jaar gaan wees.
  • Kyk mooi na wat met SA kontant se opbrengste gebeur het sedert 1997.  Dit het afgeneem van 17% tot 7.4% vandag.  Hierdie dalende rentekoers siklus was goed vir baie bates, waaronder effekte en eiendom, wat inkomste genereer.  Die effek is grootste wanneer rentekoerse vinnig daal (sien 1997-2006), maar verlangsaam soos rentekoerse ‘n draaipunt bereik.  Jy sou ‘n herhaling of voortsetting van dalende rentekoerse moet sien vir hierdie bates om hulle glorie van 2 dekades terug te herwin.  Ek sukkel om so omgewing in te sien.
  • Daar word gereeld gepraat oor reaktiewe gedrag in beleggings en hoe dit moet vermy word.  Sien gerus wat het buitelandse bates in 2016 opgelewer.  Dink gerus terug aan die einde van 2015 toe Nene vir ‘n naweek die minister van finansies was en hoeveel mense toe met alle mag hulle geld land uit gevat het.  Die rand se oorreaksie in Desember 2015 het basies heeltemal omgekeer met gevolglike verliese vir mense wat hierdie roete gegaan het.  Net terloops, indien dit nie duidelik is uit vorige skrywes nie, dit sou waarskynlik nie wys wees om nou weer jou fondse uit die buiteland terug te bring net omdat dit ‘n teleurstellende opbrengs opgelewer het die afgelope 12 maande ni
  • Buitelandse kontant lyk eenvoudig nie of die kool die sous werd is as 20 jaar se data enigiets is om op te gaan nie. Dit is die mees volatiele bate, maar het die laagste langtermyn opbrengs. Dit is beswaarlik waarna jy soek wanneer jy beleggings geleenthede soek.

Wanneer ‘n mens korrelasie, met ander woorde in hoe mate beweeg bates saam op en af al dan nie, syfers bereken op hierdie 20 jaar data, is daar ‘n paar interressante punte wat uitstaan:

  • Daar is ‘n baie groter korrelasie tussen Eiendom en Aandele as tussen Eiendom en Effekte terwyl die teksboeke suggereer dat eiendom van die “yield curve” af geprys moet word. Wanneer jy dus ‘n portefeulje saamstel en jy soek teenwigte sal effekte beter saam met aandele gaan as eiendom indien jy op soek is na risiko verlaging.
  • Buitelandse effekte en buitelandse kontant het ‘n 95% korrelasie.  Om albei dus in te sluit in ‘n portefeulje vermag jy bitter min in terme van verhoogde opbrengs of verlaagde risiko.
  • Die grootste negatiewe korrelasie tussen al die verskillende bateklasse is tussen SA Eiendom en Buitelandse effekte (-57%).
  • Daar bestaan GEEN korrelasie tussen SA kontant en Buitelandse Aandele nie.  Hierdie twee in een portefeulje het dus sinvolle diversifikasie kwaliteite.

Sterkte met die jaar wat voorlê en spesifiek met die konstruksie van jou beleggings portefeulje.  Somtyds is beleggings maklik….nou is nie een van daardie tye nie.

Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Volg hom op Twitter by @Andro720911. Hy skryf tweeweekliks vir Sake.

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. ProVérte Wealth & Risk Management is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.

Andró Griessel

.section-post-header {
background-color: #305f83;
color: #fff;
background-image: url(https://temp.sg-build.co.za/wp-content/uploads/2017/01/proverte_3387.jpg);
background-attachment: fixed;
background-position: center;
background-repeat: no-repeat;
background-size: cover;
height: 400px;
vertical-align: middle;
}

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X